Tuisblad / Nuus / Spore bly’n eeu waarweerlig tref

Dis sommer ’n wolhaarstorie dat Daniël Poklenberg Erasmus in 1884 God of die donderweer gevloek het kort voordat hy deur weerlig doodgeslaan is.

Só gesels Danie van Rensburg (77), ’n agterkleinseun van Erasmus, oor die befaamde “Voetspore van Standerton”.

Die weerlig het Erasmus op 25 Januarie daardie jaar op die plaas Uitkyk tussen Standerton en Morgenzon doodgeslaan.

Daarna was Erasmus se twee voetspore langer as ’n eeu in die grond op sy plaas ingeëts.

Die duik waar sy elmboog die grond getref het, was ook baie jare lank sigbaar.

Die voetspore is sowat agt jaar gelede vernietig toe kwajongens ’n gat op die plek gegrawe het.

“Ons weet nie wie dit gedoen het of hoekom nie. Maar dit was seker maar iemand wat gedink het gerugte dat daar ’n skat onder die voetspore begrawe is, is waar,” sê Van Rensburg.

Erasmus is getref waar hy langs sy perd gestaan het by ’n dam wat hy op die plaas laat bou het. Die donderslag was so erg dat sy knipmes 21 treë van hom af geval het en sy pyp se steel is middeldeur gebreek, skryf P.G.M. Scholtz in Standerton Gister en vandag.

“Sy skoenveters het los op sy velskoene gelê en sy jas en klere is aan repe geskeur.

“Gerugte dat hy (Erasmus) geswets het voordat die weerlig hom getref het, steek so elke dan en wan kop uit.”

Die dam bestaan vandag nog en is nou bekend as Betsiesdam. Dis genoem na die vrou van een van Erasmus se seuns.

As seun wat op die familieplaas grootgeword het, het Van Rensburg hom gereeld aan die voetspore gaan verwonder.

“Die gras het nooit in die voetspore gegroei nie. Wanneer dit swaar gereën het en die water in plassies op die grond rondom die voetspore opgedam het, het die water op die voetspore onmiddellik in die grond weggesink.”

In 1961 het Erasmus se kleinkinders ’n gedenksteen ter ere van hom by die voetspore opgerig.

Dit word nog gereeld deur verbygangers besoek. Dit is 26km buite Standerton langs die R39, sowat 20m van die pad af.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs