Tuisblad / Sport / Willandré keer terug ná sege

Willandré Kotzenberg (17) van die HTS Middelburg het pas saam met sy junior Blitsbokke-spanmaats teruggekeer van hul segetog op die Australiese Jeug- Olimpiese Fees (AYOF).

Dié sewesspan het behoorlik amok gemaak en die punte laat inrol.

Dit was die eerste keer dat sewesrugby ook by dié fees aangebied is.

Die span het al hul teenstanders in die reeks pak slae gegee en as die wenners uit die stryd getree.

Hulle het in die eerste ronde Japan met 58-0 afgeransel, Tonga met 38-0, China met 73-0 en Australië met 32-12.

In die halfeindstryd het Suid-Afrika weer teen Japan uitgedraf en hulle weer afgeransel, met ’n oorwinning van 68-0.

Die eindstryd is teen Australië gespeel en Suid-Afrika het dié wedstryd met 27-7 gewen.

“Ek het ongelooflik baie geleer met hierdie reeks. Voor elke wedstryd het die afrigters ’n intensiewe ontleding gemaak van wat ons spel-taktiek moet wees en wie watter spelers moet teiken,” vertel Willandré.

Volgens hom het die span al op 13 Januarie na Australië gevlieg.

“Ons het verlede jaar drie oefenkampe vir die span gehad.

“Met die laaste een in Desember het ek gehoor dat ek deel is van die amptelike span. Ons het toe van 8 Januarie af in Stellenbosch voorberei en van daar af vertrek na Australië,” vertel hy.

Volgens Willandré is Australië baie mooi en warm.

“Suid-Afrika bly egter nog vir my die mooiste,” sê hy.

Hy het ook baie nuwe dinge van rugby geleer.

“Die belangrikste, natuurlik, is fiksheid en konsentrasie.

“Sewesrugby is nie vyftienman-rugby nie. Jy kan nie bekostig om ’n fout te maak nie.

“Dit is baie onvoorspelbaar en jy moet die hele tyd konsentreer, maar ook kan aanpas by wat jou spanmaats doen,” sê hy.

Willandré het op sesjarige ouderdom begin rugby speel.

Hy het eerste bulletjie-rugby vir die Laerskool Marble Hall gespeel.

Sy ouers, Giaum en Zelna, woon hier.

Willandré is by die HTS Middelburg in die koshuis en is ook die skool se eerste span-rugbykaptein vir sowel die vyftienmanspan as die sewesspan.

Hy het ook verlede jaar by die Craven-week vir die Pumas (in sy ouderdomsgroep) as kaptein uitgedraf. Hy was toe ook die kaptein van die vyftiental en die sewesspan.

Hy droom daarvan om eendag vir die Blitsbokke te speel.

“My rolmodel is Ritchie McCaw omdat hy die spel vinnig kan lees en goeie besluite kan neem,” sê hy.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Donderdag 2013-06-20
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 10° - 17° icon
PTA 5° - 22° icon
JHB 2° - 21° icon
BLOEM -2° - 21° icon
DBN 9° - 24° icon
PE 9° - 18° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs