’n Glimlag op ’n kind se gesig bring vir Barbara Kenyon die grootste vreugde.
Kenyon (55) is die uitvoerende hoof en stigter van die Great Rape Intervention Project (Grip) in Nelspruit.
Grip is ’n nie-winsgewende organisasie wat daarop gemik is om kinders en ander slagoffers van verkragting, mollestering en gesinsgeweld by te staan ten tye van rehabilitasie, asook tydens die hofprosedures.
Kenyon het die organisasie 12 jaar gelede gestig. Tans doen sy baie geldinsamelingswerk en bied regsadvies aan.
Haar droom is om Grip volhoubaar te kan maak met die hulp van die regering.
“Die doel is dat die regering en die gemeenskap verantwoordelikheid neem van ’n sentrum, byna soos ’n kettingwinkel.
“Op hierdie wyse kan Grip uitbrei om meer mense te help. Dit kan ’n groot verskil maak,” sê sy.
Een van die hoogtepunte in haar lewe was toe sy verlede jaar Grip by die vigs-konferensie in Toronto verteenwoordig het en ’n hoofspreker was.
“Dit is altyd vir my ’n hoogtepunt in my lewe as ek ’n glimlag sien op ’n kind wat baie seergekry het in sy lewe. Ek het ’n passie vir kinders,” sê sy.
Sy beskryf haarself as ’n baie sosiale mens wat soms ’n bietjie vergeetagtig is.
“My kinders dink natuurlik ek is baie vreemd. Maar ek is baie gelukkig en tevrede met my omstandighede. Ek leef my lewe volgens Mahatma Gandhi se leuse: Wees die verskil wat jy in jou lewe wil sien,” sê sy.
Kenyon vertel dat haar gesin, haar perde en al die kinders in die wêreld haar hele lewe is.
Sy is met Dave, ’n oogkundige in Nelspruit, getroud.
Die egpaar het twee kinders, Erin (16) en Cullen (14).
Sy glo daaraan dat elke mens iets het om te gee.
“Selfs ’n klein gebaar van goedheid kan ’n groot verskil maak,” sê sy.