Tuisblad / Nuus / Kleuterskool voltooi met skenkers se hulp

Helen Zille, die DA se federale leier, het verlede Sondag die Remmogo-kleuterskool in Matibidi in die Thaba Chweu-munisipale gebied amptelik geopen.

Mpumalanga-Beeld het in November berig hoe hierdie projek wat deur die DA gedryf is, sowat vyf jaar gelede lewe gekry het toe dr. Johan Lighthelm, ’n DA-raadslid van die Thaba Chweu- munisipale gebied, voogdyskap van die skool geneem het.

Die skooltjie was destyds in die kantore van die Mashilane-stamgesag, maar het later na ’n piepklein gebou verskuif. Constance Mashigo, die skoolhoof, en die 68 leerlinge is egter toe deur ’n ander plaaslike raadslid uitgeskop.

Mashigo het Lighthelm om hulp genader omdat sy ’n plakkersgebou wou oprig waarin die kleuters kon skoolgaan, maar sy het nie boumateriaal gehad nie.

Lighthelm het meer mense betrek en só skenkers gekry wat bereid was om ’n nuwe skoolgebou te help borg.

Die nuwe Remmogo-kleuterskoolgebou van R1,458 miljoen is langs die hoofpad van Matibidi, oorkant die Blyderivier-canyon, opgerig.

Dit het slegs drie maande geduur om die skool te bou danksy die samewerking van Mashigo, die plaaslike Mashilane-stamgesag en skenkers wat hul hulpbronne saamgevoeg het.

Die nuwe geriewe sluit in volledig ingerigte klaskamers, meubels, badkamers, ’n kombuis en ’n speelterrein.

Zille het Sondag saam met Anthony Benadie, die DA-leier in Mpumalanga, en James Masango, DA-voorsitter in die provinsie, die opening van die skool behartig.

Zille het gesê ware vryheid beteken dat elke kind die onderrig, opvoeding en kanse sal hê om ’n lewe te lei wat hulle waardevol kan ag. “Dit is die verantwoordelikheid van die regering.”

Volgens haar is die verkryging van vryheid nooit heeltemal bereikbaar nie en moet elke generasie daarna streef.

Zille het na pres. Jacobs Zuma se Nkandla-ontwikkeling gekap in haar toespraak. “In plaas daarvan om kleuterskole te bou, bestee die president eerder R250 miljoen van jul geld aan sy private huis. Dit mag nie so wees nie,” het Zille gesê.

Sy het verklaar dat geen kind hier weggewys sal word op grond van die ouer se politieke oortuigings nie.

“Al hoe meer mense stem vir die DA, want hulle wil ’n regverdige en eerlike regering hê wat die belastingbetalersgeld vir die mense aanwend.”

Lighthelm het voorheen gesê hulle beplan om ’n groentetuin aan te lê en selfversorgend te raak.

“Onderwysers sal opgelei word en ’n finansiële stelsel sal ingestel word. Ons beoog om vanjaar sowat 180 kinders in te neem,” het hy gesê.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Saterdag 2013-05-25
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs