Kersfees en Oujaarsaand 2012 het gekom en gegaan. Hier by ons was dinge stil – sommer baie stil!
In Oesbekistan is die Moslemgeloof die grootste, maar omdat dit ‘n sekulêre staat is, word dit nie so streng beoefen nie. Dus, ons was daarop voorbereid dat Kersfees stil en ongemerk sal verbygaan. Ons was ietwat verbaas toe Kersvaders, Kersbome en ander Kersversierings wel op redelike groot skaal vroeg in Desember hul verskyning gemaak het.
Dis egter nie vakansieseisoen hier nie en die alledaagse lewe gaan sy gang. Kinders gaan skool toe, mense gaan werk toe.
Ons Kersfees het só verloop: Omdat ons nie huistoe is oor die feestyd nie, wou ons Kersdag gaan eet by een van die Engelse pubs hier wat ‘n Kerspartytjie gehou het. So twee dae voor die tyd het ons egter gaan koffie drink by ‘n hotel en gehoor van hulle spesiale ete op Oukersaand. Daar en dan het ons planne verander – ek sê nie maklik nee vir wonderlike kos in ‘n elegante omgewing nie!
Heng, en my speekselkliere werk steeds oortyd as ek net dink aan wat ons gekry het. Dit was ‘n 5- of 6-gang fees (ek’s nie presies seker hoeveel nie) en die een gereg was lekkerder as die volgende! Ek het die fout gemaak om nie deur die dag veel te eet nie in afwagting op wat sou kom, met die gevolg dat ek my redelik vergryp het aan die wonderlike verskeidenheid brode en smere waarmee ons afgeskop het. Die voorgereg van gemarineerde salm en kwarteleiers, sowel as die tweede gang wat ‘n geroosterde pampoensop was, het nog heel goed afgegaan en toe eers kom my maag se benoude boodskap, “ek’s reeds vol!” uiteindelik by my brein uit. Watwou uitmis op enige iets, ek het dit bloot geïgnoreer en laat waai! Die eerste hoofgereg was ‘n visgereg op spinasierisotto met groente en kaviaarsous. Die palet is skoongemaak met ‘n suurlemoen sorbet en toe kom die ware grofgeskut in die vorm van gebraaide eend met rooi kool, aartappelkrokette en ‘n bessiesous. (ek kwyl alweer…) Nagereg was ‘n kaneelgegeurde Kersfeespoeding. Lekker kos bly maar een van die beste dinge in die lewe!
Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, is die snaarkwartet en pianis wat beeldskone klanke opgetower het.
Ons het egter nie die langverwagte wit Kersfees gehad nie. Die dag of wat vooraf het die kwik effe gestyg en die sneeu het gesmelt. Dit het toe uitgedraai as ‘n nat en grys Kersfees hoewel dit weer die aand begin neersif het. Kersdag was hier ‘n gewone werksdag en die res van die kantoor se plaaslike personeel was op hul pos. Maarten het egter verlof ingesit vir die dag. Ons het na die diens op RSG geluister en toe die res van die dag met ons neuse in boeke deurgebring.
Dankietog vir Skype! Mens voel op sulke dae die gemis aan familie nogal meer as andersins, maar daar’s ‘n pleister op geplak met die tegnologie.
Die dag na Kersfees was weer ‘n gewone werksdag vir Maarten, maar ons is die middag na ‘n partytjie wat die kantoor vir die personeel se kinders gereël het. Groot pret en LEKKER kos! Laat daar nie gesê word ons het nie lekker geëet oor die feesgety nie!
Nou, ons het gehoor daar word nogal ‘n groot ophef van Nuwe Jaar gemaak. Ons het ons klaargemaak om skouspelagtige foto’s te gaan neem van die vuurwerke wat glo afgeskiet sou word.
Ons buurman het vroeër die aand vir ons tradisonele smullekker pasteitjies gebring ter viering van die nuwe jaar. So kyk ons toe James Bond-flieks tot 10uur die aand, trek skibroeke, long johns, thermovessies, winterbaadjies, handskoene, musse en stewels aan (temperature het intussen weer gedaal na die minusse) en durf die moltrein slaggereed aan.
Daar was omtrent niemand op die moltrein nie, en hier by ons was die strate doodstil. Ons reken toe die aksie sal seker in die stadsentrum wees.
11uur klim ons af waar ons wil wees en verkyk ons aan die massiewe, verligte Kersboom reg oorkant die moltreinstasie. Daar was ‘n handjievol mense wat daar rondgestaan het en polisiemanne het ons terugbeduie tot op ‘n punt. Nader aan middernag is die strate afgekordon en daar was ‘n redelike groot polisieteenwoordigheid en selfs ‘n ambulans – alles tog tekens dat een of ander gebeurtenis gaan plaasvind, hoewel ons weens die taalprobleem nie kon agterkom presies wat nie. ‘n Ewe verwarde Koreaan het ons omtrent om die nek geval toe hy hoor ons kan Engels praat en volgens hom het hy by ‘n hele paar polisiemanne probeer uitvind of daar wel ‘n vuurwerkvertoning gaan wees en die antwoord was negatief. Meer as dit kon ook hy nie agterkom nie. Intussen het die aantal mense aangegroei tot wat ek selfs ‘n skare sal noem.
Ons het vir ons ‘n goeie posisie uitgesoek vir daardie wen-foto’s, ons driepote opgestel en ons kamerastellings gemaak; reg vir wanneer middernag slaan en optimisties dat vuurwerke wel afgeskiet gaan word…
Op ‘n stadium het daar so ‘n sagterige gejuig losgetrek en mense het so effens hande geklap. En dit was die teken dat 2013 aangebreek het. Geen vuurwerke nie, geen aftelling nie, geen fanfare nie. Daar is wel ‘n swerm duiwe losgelaat. Teen 12:20 het mense begin wegdrentel en toe moes ons maar aanvaar daar gaan geen vuurwerke wees nie. Ek dink ons het die pot iewers mis gesit.
O wel, dit was steeds ‘n interessante uitstappie en met die terugkomslag was ons die middelpunt van aandag op die moltreinplatform wat toe aansienlik besiger was!
Voorspoedige Nuwe Jaar!