Tuisblad / Nuus / Nog n sokker fiasko?

Die Mbombela-stadion buite Nelspruit is gereed vir die 2013 Orange Afcon-sokkertoernooi wat hierdie naweek begin.

Die speelvlak is groen, die 43500 sitplekke is skoon en derduisende rande is bestee om die losies en mediasentrum op te gradeer.

Al wat nou nog kort is toeskouers, baie van hulle!

Met net ’n dag oor voor die eerste afskop, is daar erge kommer oor die kaartjieverkope in Nelspruit.

Daar is tans net sowat 50 000 van die 261000 kaartjies beskikbaar vir die wedstryde hier, verkoop. Die C-poel bestaande uit Zambië, Etiopië, Nigerië en Burkina Faso speel by dié Mbombela-stadion.

Die eerste poel-wedstryd in Nelspruit is op 21 Januarie.

’n Afvaardiging van die tegniese span van die plaaslike reëlingskomitee van CAF (Confederation of African Football) wat onlangs in Nelspruit was om te sien hoe gereed die stad is, het kommer uitgespreek oor die swak kaartjieverkope.

Kommer heers ook oor die geld wat die Mbombela-munisipaliteit aan die toernooi gaan bestee.

Die raad is tans steeds in ’n erge geldelike krisis en steier nog onder die skuldlas van WB 2010.

Die raad het slegs R6-miljoen van die geraamde R44miljoen wat dit hulle gaan kos, vir die toernooi begroot.

Hoewel die nasionale en provinsiale regerings onderneem het om onderskeidelik R34 miljoen en R4miljoen by te dra, is die geld nog nie ontvang nie.

Die media probeer nou al vir maande lank onsuksesvol om antwoorde oor die Afcon-toernooi uit die stadsraad te kry.

James Masango, ’n DA-lid in die Mpumalanga- wetgewer, sê dié party sukkel ook al lank om inligting te kry. Hy sê die regering en die raad moet dringende stappe doen om te keer dat belastingbetalers van die stad in dieselfde finansiële knyptang beland as met WB 2010.

“Stappe moet ook onmiddellik gedoen word om die toernooi beter te bemark en kaartjieverkope te verhoog.”

Joseph Ngala, woordvoerder van die stadsraad, sê die raad is vol vertroue dat hulle hul plaaslike kaartjieverkopeteiken van 180 000 vir die toernooi sal behaal.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Donderdag 2013-05-23
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 19° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 23° icon
BLOEM 3° - 24° icon
DBN 14° - 27° icon
PE 12° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs