Xander Basson kan binnekort dalk binnekort as een van die beste o.19-gholfspelers in die land geag word weens sy uitmuntende spel by die onlangse nasionale o.19-gholfkampioenskap.
Hy is ’n leerling aan die Hoër Tegniese Skool Middelburg.
Xander is al verlede jaar op 16-jarige ouderdom aangewys as die land se o.17- gholfkampioen.
Hy het onlangs aan die nasionale gholf-kampioenskap in Kaapstad by die Mowbray-gholfbaan deelgeneem waar hy algeheel vierde geëndig het.
Die toernooi maak deel uit van die nasionale meriete-orde waartydens junior spelers die kans kry om hulle houe-gemiddelde te verbeter vir die nasionale o.19-ranglys.
Xander het saam met 103 van die land se voorste juniors afgeslaan in hierdie prestige toernooi.
“Die baan was my nie goedgesind in die eerste ronde nie en ek moes tevrede wees met ’n eerste rondte van 79,7 houe meer as baansyfer,” vertel hy.
Tydens die tweede ronde, het die Kaapse wind stormsterk begin waai. Dit was hier waar die voorlopers op vyf onder baansyfer, alles in die stryd moes werp om aan hulle voorsprong vas te klou. Xander het egter ander planne gehad. Met ’n byna foutlose ronde het hy vyf voëltjies en een brouhou geslaan. Hy het hiermee die beste rondte (68) in die middagveld gespeel.
Hiermee het hy uit die vyftigste posisie na die top 10 geskuif.
Sy derde ronde het egter wankelrig begin met ’n dubbele brouhou op die eerste putjie.
Hy het sy spel verbeter en die ronde met twee onder baansyfer afgesluit. “Met ’n totaal van +1 vir die toernooi het ek die uitspeelronde tussen die eerste drie spelers met een hou gemis. Ek het toe algeheel vierde geëindig,” sê Xander.
Hy het as kleuter saam met sy pa, Charl, op die gholfbaan rondgeloop en so begin rondspeel met die gholfstokke en balle.
Vanaf 12-jarige ouderdom het hy elke jaar sy Mpumalanga-kleure verwerf.
In gr.7 het hy aan die Mpumalanga Junior Foundation se gholfkampioenskap begin deelneem.
Sy droom is om eendag een van die tien beste gholfspelers in die wêreld te wees.