Haar eie hospitaal is deel van Michelle Janse van Rensburg (18) se toekomsplanne.
“Dié hospitaal is darem eers aan die einde van my doelwitlysie. Nou wil ek eers medies by Tukkies studeer en dan kyk waarin ek wil spesialiseer.”
Michelle was verlede jaar die Hoërskool Ermelo in Mpumalanga se hoofmeisie vir dorpskinders en deel van die skoolkoerant, Spoiïng, se redaksie.
Sy het onderskeidings in al nege haar vakke Afrikaans, Engels, wiskunde, wiskunde vraestel 3, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, geskiedenis en besigheidstudies behaal.
Michelle is die enigste kind van Wimpie en Riana Janse van Rensburg. Hulle besit en bedryf ’n rekenaar-onderneming in Ermelo.
Sy glo dat haar ouers haar grootste bron van inspirasie is.
“Elke kind het die regte omgewing nodig om in te kan presteer.
“My ouers het vir my die regte atmosfeer geskep en ek kan daarom ook selfgedrewe wees.”
Michelle was 2012 se Dux-leerling van die Erries en sy is aangewys as die tweede beste matrikulant in die provinsie.
Ander Erries wat in die matriek-eindeksamen presteer het, is Theo Jonker met 8 onderskeidings, en Carmen Horn, NJ Robbertse, Francois Joubert, Mignonette Rouillard en Inge Koper met sewe onderskeidings elk.
Annerrie Martins het ses onderskeidings behaal.