En daar sneeu dit nou behoorlik! Ons tuin in Tashkent is wit gesneeu en soos ek hier sit en tik, val die sneeuvlokkies nog eenstryk deur. Hoe waardeer ek nie nou ons heerlike warm huis en ons kar met sy verhitte sitplekke nie! Dís die beste uitvindsel nog!
Ons het laasweek toe vir ons ordentlike skibroeke- en handskoene gaan koop. Na die naweek is daar in my opinie nie iets beter as daai skibroek nie. Heerlik warm en waterdig en as jy dit aanhet, voel jy nie eers die koue nie. Ek’s egter nie so seker van my handskoene nie.
Ons was vanaf Donderdag tot Saterdag weer berge toe en my vingerpunte het verskriklik gepyn van die koue. Soos in regtige seer, intense pyn. Ek dink egter dat die probleem nie noodwendig by die handskoene lê nie, maar eerder omdat my hande kort-kort uit die handskoene was om stellings aan die kamera te verander.
Die berge was prentjiemooi, hoewel dit regtig baie bitterkoud was – glo -21° gedurende die nag! Ons het op 'n slee gery wat groot pret was en buite in die sneeu gesit en koffie drink by so ‘n kafeetjierige plek. En ver ente gaan stap terwyl ons ons fotografiese vermoëns geoefen het. Toe wou ons gaan vir ski-lesse maar heng, ons het twee nagte agtermekaar so sleg geslaap dat dié plannetjie maar laat vaar is. Die basis van die bed by die plek waar ons oornag het, was stukkend met die gevolg dat die matras ‘n “gat” in die middel gemaak het. Dit het gevoel asof jy heeltyd afdraende slaap.
Toe ons gaan uitvind het van ski-lesse het ons op iemand afgekom wat blykbaar in die Oesbek Olimpiese skispan was so ‘n paar jaar gelede. Ons het sy telefoonnommer gevat en sal volgende keer by hom gaan leer.
Oor die naweek het dit toe hier in Tashkent ook begin sneeu en soos ek reeds genoem het, die wêreld is spierwit. Die strate is nogal ‘n gemors met al die modderige sludge. Ek was nou-nou uit vir my Russiese les en die kar se termometer het gewys dis -8°. Weervoorspelling sê dit gaan glo nog kouer word…
Maarten het gister by die kantoor verneem dat dit ‘n “droë” sneeu is wat val. Dis blykbaar ‘n ander soort sneeu, met min of geen vloeibare waterinhoud, wat deur uiters koue temperature meegebring word. Dit pers nie saam nie – dit verklaar hoekom ek nie ‘n sneeuman kan bou nie, die sneeu wil eenvoudig nie ‘n bal vorm nie – en die sneeuvlokkies lyk ook glad nie soos dié van “nat” sneeu nie. Ek onthou uit my au pair-dae in Duitsland dat mens letterlik die sneeukristalletjies in die sneeuvlokkie kon sien, kompleet soos dit in prentjies lyk. Maar dié vlokkies lyk soos poeierige donsies. Tydens droë sneeu val daar glo ‘n groot aantal klein vlokkies en as dit ‘n nat sneeu-situasie is, val daar ‘n klein aantal groot vlokkies.
Travel broadens the mind indeed.