Nicholas Grobler van eMalahleni (Witbank) het verlede naweek in die Superbike Unlimited-klas in die Noordelike streke se Full Throttle-motorfietskampioenskap gewen.
Die laaste ronde van hierdie kampioenskap is op 1 Desember op die Red Star-renbaan, naby Delmas, gehou.
Grobler en die ander motorfietsrenjaers het ook daar hul nuutste motorfietse en borge vir die 2013-seisoen bekend gestel.
Grobler, wat bekend staan as “The Joker” onder sy aanhangers en mede-renjaers, het die Vrydag reeds ’n goeie tyd behaal en in 1 minuut en 54 sekondes die kwalifiserende rondte op sy nuwe Kawasaki ZX10-R voltooi.
Grobler het sterk teenstand gehad van Chris Leeson op sy BMW en van Gavin Lightfoot, ook op ’n Kawasaki ZX10-R.
Ná slegs die eerste amptelike wedren van die dag het Grobler die titel ingepalm as vanjaar se kampioen in die Unlimited-klas van die superfiets-kampioenskap.
Grobler is lid van die nuwe Black Swan Kawasaki-span, wat dié vervaardiger volgende jaar verteenwoordig.