Encee van Huyssteen (48) is ’n gesinsman, raadslid, skietinstrukteur, klankman, sanger, musikant, oud-soldaat, sakeman, voëlkyker en nog vele meer.
Dié kleurryke Secunda-inwoner meen egter sy grootste lekkerte is fotografie.
Van Huyssteen het al van kleins af ’n interessante lewe gelei. Hy het as kind in die Krugerwildtuin grootgeword, was twee jaar lank lid van die Drakensbergseunskoor en het al saam met Mimi Coertse op die verhoog verskyn. Hy is ’n bariton en tree steeds so elke dan en wan saam met ’n vriend, Vaughan Louw, op.
“Ek het aan die Hoërskool Delmas gematrikuleer en was daarna vyf jaar lank in die lugmag as deel van die lugverdedigingsgroep.” In hierdie tyd het hy ook rugby gespeel en vir die destydse Oos-Transvaalse o.21-span uitgedraf.
Hy was daarna by kredietbestuur en lewensversekering betrokke totdat hy Secunda Prenteramers by sy ma, Corrie, gekoop het.
“Terwyl Elmarie, my vrou, die besigheid hanteer het, het ek brandbestrydingstoerusting geïnstalleer en herstel, en die hele Afrika vol gereis vir werk.”
Van Huyssteen het voor WB 2010 saam met Pro Sound gesorg dat die Mbombela-stadion in Nelspruit se luidsprekers en klankgehalte goed genoeg was vir die sokkertoernooi.
“Ons het oor die 600 luidsprekers geïnstalleer,” vertel hy.
Sy span het ook die klankinstallasie vir die Fifa Fan Parks by Bergvlam en Kanyamazane hanteer, die Ilanga Mall se klankstelsels ingerig en die Setsoto-stadion in Maseru behartig. Hulle is nou besig om ’n kettingwinkel-groep se klanktoerusting op te knap.
Intussen help hy met die wapenopleiding van veldgidse by Sabie-Sabie, vlieg graag sy eie radiobeheerde vliegtuie en probeer as DA-raadslid om ’n betekenisvolle bydrae in sy gemeenskap maak.
Van Huyssteen bestee soveel tyd moontlik aan sy fotografie. Sy werke is tussen ander kunswerke in sy winkel uitgestal en verkoop taamlik goed.
“Ek hou van die kunstige deel van fotografie. Dit was al op skool vir my ’n aktiwiteit wat ek baie geniet het. Ek is ’n Canon-verslaafde en veral op landskappe ingestel, maar ai, ek kan ook nie unieke deure en ou vensters uitlos nie,” skerts hy.
Van Huyssteen kyk na unieke fokuspunte en bly nie altyd binne die reëls van fotografie nie.
Hy droom daarvan om sendingstasies in Suider-Afrika te gaan afneem.
Sy vrou en kinders deel sy fotografie-liefde. Hy is nou 23 jaar met Elmarie getroud en het twee dogters, Althea en Anandi.
)Besoek www.mpumalangabeeld.com se fotogalery vir nog foto’s van Van Huyssteen.