Middelburgers kan binnekort gesuiwerde mynwater in hul krane hê.
Inwoners hoef egter nie oor die watergehalte bekommerd te wees nie, want die water sal eers deur ’n spesiale suiweringsaanleg gestuur word voordat dit vir menslike gebruik beskikbaar gestel word, sê die mynmense daaragter.
Die Shanduka-myngroep bou nou dié watersuiweringsaanleg om water te suiwer wat by die Graspan- en Townlands-myne opgaar.
Die boukoste is R32 miljoen en die bedryfskoste gaan na raming tussen R4 en R6 per kiloliter water beloop.
Die aanleg word só gebou dat bykans 2 miljoen liter water per dag gesuiwer kan word.
Die gesuiwerde water gaan aan die Steve Tshwete-munisipaliteit verskaf word vir menslike gebruik.
Volgens Henry Duvenhage, Shanduka se ingenieurs-en-aanlegbestuurder, sal die aanleg hopelik al in Januarie in werking wees.
Die groep is nog net besig om al die wetlike prosedures te volg en die permitte daarvoor te finaliseer.
“Die twee myne gaar derduisende liters water op wanneer dit reën. Dit beïnvloed die mynbou-aktiwiteite omdat dit bloot die heeltyd van een plek na ’n ander gepomp word, want die water mag nie ongesuiwer uit die myn gelaat word nie.
Ons het ’n jaar en ’n half gelede na oplossings begin soek,” sê hy.
Die groep het besluit om eerder ’n aanleg te bou wat die water suiwer sodat dit weer in die natuur gebruik kan word, maar die plaaslike munisipaliteit het versoek dat die gesuiwerde water eerder aan hom verskaf word.
Die groep het R2 miljoen ekstra bestee om die aanleg só aan te pas dat die water gesuiwer kan word vir menslike gebruik.
“Die water wat by die aanleg gesuiwer word, sal ná die suiweringsproses gedrink kan word,” verseker Duvenhage.
Die myngroep het Proxa, ’n watersuiweringsgroep, genader vir die bou en bestuur van die aanleg.
“Die aanleg gaan 24 uur per dag, sewe dae per week besig wees. Dit word met die beste tegnologie gebou en gemonitor.
“Ons is nie kenners op die gebied van watersuiwering nie, maar Proxa is. Ons wil water van goeie gehalte lewer,” sê Duvenhage.
Die aanleg is by die aansluiting tussen die ou eMalahleni- en Van Dyksdrif-pad geleë.
Indien hierdie aanleg suksesvol is en die aanleg die kapasiteit daarvoor hetafhangende van die reënvalkan ander myne genader word om hul water ook te suiwer.