Tuisblad / Nuus / Elke minuut is vir Annette baie kosbaar

Haar passie om ’n verskil te maak help om Annette Salzwedel van Middelburg soveel beter te maak in haar amp as Mev. Cansa Relay for Life 2012.

Salzwedel is ’n 33-jarige ma wat glo elke minuut is kosbaar en dat ’n mens die meeste daarvan moet maak.

Sy het in Middelburg grootgeword en is ’n finansiële raadgewer vir Deltrofusion op dié dorp.

Sy is ook die eienaar van Cardies-takke in die Highveld Mall in eMalahleni en in die Middelburg Mall.

“Ek en my man, Banie (34), glo dis belangrik om vir die gemeenskap of minderbevoorregtes te gee waarvan ons in oorvloed hetal is dit soms net liefde.

“Deur betrokke te wees by projekte leer ons ook die waardes vir ons seun, Ruben (6), aan,” vertel Salzwedel.

Hulle ondersteun graag enige liefdadigheidsprojek, maar konsentreer tans meer op die Kansa-projekte omdat sy Mev. Cansa Relay for Life is.

Die egpaar werk saam om geld in te samel vir Kansa.

Sy doen ook skoolbesoeke met Toktokkie om kinders meer bewus te maak van hoe om gesond te leef.

Die hoogtepunte in haar lewe was toe haar twee seuns, Nardo en Ruben, gebore is.

Die egpaar was egter deur donker tye toe Nardo in 2006 op tweejarige ouderdom oorlede is.

Hy is by die huis oorlede nadat dokters eers vermoed het hy het maagontsteking gehad. Volgens Salzwedel het hulle egter daarna vermoed dit was breinvliesontsteking, maar daar is geen nadoodse ondersoek gedoen nie.

“My hoogtepunt was beslis toe ek albei my perfekte seuntjies in my arms gehou het, die volmaakte oomblik, die volmaakte gesin, die volmaakte ek.

“Ons lewe is egter tot stilstand geruk toe Nardo oorlede is en ek die laagste van laagtepunte beleef het,” sê sy.

“In enige situasie kan jy slegs twee besluite neem, naamlik om te bly lê of om op te staan. Natuurlik gaan ’n mens deur geestelike en emosionele worsteling, maar dag ná dag word mens sterker in jou geloof.

“Ek weet dat ek nie my lewenspad sonder God wil of kan loop nie en hy gee my die krag om elke situasie te hanteer wat op my pad kom,” sê sy.

Salzwedel droom daarvan om eendag op die stoep te sit en oor die see uit te kyk met perde wat in die agtergrond runnik en sy wil moontlik ’n boek skryf oor haar lewenservaringe.

Haar leuse in die lewe is dat mens net een lewe kry en mens moet dit voluit leef.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Saterdag 2013-05-25
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs