Kayla Crous van Trichardt in Mpumalanga is gekies om Suid-Afrika in Januarie op die Shine-konferensie in Orlando, Florida, in die VSA te verteenwoordig.
Sy is ’n 17-jarige sanger en liedjieskrywer wat al konserte vir kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Elizma Theron en Romanz geopen het.
Volgens Kayla is die konferensie eintlik ’n byeenkoms waar die direkteure van maatskappye met bekende handelsmerke self gaan soek na nuwe talent wat hulle kan bemark. Van bekende modelagentskappe tot platemaatskappye sal daar wees, op soek na nuwe, talentvolle mense wat bowenal ’n goeie en gesonde beeld uitstraal.
Deelnemers gaan nie net sing nie, maar ook voor die kamera modelwerk moet doen.
Dit word vanjaar by die Gaylords-oord aangebied.
Kayla is vroeër vanjaar op die Suid-Afrikaanse talentkampioenskap (Satch) gekies om na Amerika te gaan. Satch is geaffilieer by ’n internasionale organisasie, Acting, Modelling and Talent for Christ, wat tydens die geleentheid deelnemers met talent identifiseer om op te tree tydens die jaarlikse konferensie in Orlando.
Kayla se ma, Leonora, gaan haar vergesel op die reis na Amerika van 26 Desember tot 10 Januarie.
Kayla skryf self liedjies, speel kitaar en het formele musiekopleiding ondergaan aan die International School of Music.
Sy sing gereeld saam met ’n plaaslike Latynse kitaar-duo, Dennis Puth en Migael Rossouw van Wistful Whisper, asook Ruan Graaff, ’n heeltydse musikant wat in Secunda grootgeword het.
“Sing is vir my ’n natuurlike ding,” vertel sy. “Ek het dit nog altyd gedoen. My kleuterskoolonderwyser het destyds vir my ma vertel dat ek al op daardie ouderdom nootvas was.”
Kayla was sewe jaar oud toe sy, haar pa, Ben, en haar ma na Katar verhuis het. Hulle het vyf jaar daar gewoon en Kayla het saam met ’n kosmopolitiese groep kinders skoolgegaan. Sy het onderrig van Cambridge International gekry.
Sy het pas in hierdie stelsel matriek geskryf.
“Ek wil volgende jaar ’n oorbruggingsjaar by Hillsongs in die Kaap doen en kyk hoe dinge met my musiek vorder, maar die jaar daarna wil ek beslis in ’n mediese rigting studeer, verkieslik oorsee.”
En as een van die talentwerwers haar dalk in Januarie opraap, sal sy die kans aangryp, maar sy sal beslis ’n graad agter haar naam kry, meen Kayla.
“Opleiding en onderrig is kosbaar en onvervangbaar,” vertel sy.
Haar rol as Christen is die belangrikste. “Alles wat ek doen, doen ek tot eer van die Here. Ek sal nie enigiets teen my beginsels en teen God se Woord doen nie, al beteken dit dat ek nie beroemdheid verwerf nie.”
Kayla glo om in alles haar beste te lewer. Sy is ook ’n talentvolle kunstenaar en het kuns as ’n skoolvak gehad.
Sy is ook knap met koekversiering en partytjies reël.
Kayla maak sakgeld vir Amerika bymekaar deur Kersfeeskoeke te bak en te versier.