Die kaptein van die blitsrugbyspan van die Pumas, EP Olivier, is nou ook die rugbyspesialis by die Hoërskool Oosterland.
As rugbyspesialis is dit Olivier se werk om oefenprogramme en selfs eetprogramme vir spelers uit te werk sodat hulle in die beste kondisie kan wees en daar kan bly.
Olivier sal met die afrigting van die spelers binne en buite die gimnasium help.
Hy dra ook by tot die rugbyafrigting van spelers en staan die skool se nuwe rugbydirekteur, Dietlov Coetzee, by om na nuwe rugbytalent vir die skool te soek.
Olivier is ook ’n fiksheidsinstrukteur by die Wellness World-gimnasium, ’n private onderneming wat op die Hoërskool Oosterland se gronde bedryf word, en hoewel hy sy aandag grootliks aan die skool se atlete bestee, sien hy ook om na ander lede.
“Die gimnasium is oop vir enigiemand op die dorp, nie net vir mense verbonde aan die skool nie,” verduidelik Olivier.
Hy is ’n fiksheidfanatikus met ’n goeie begrip van hoe ver die menslike liggaam gedryf kan word.
Olivier neem graag aan fiksheidkompetisies deel en brei homself op die oomblik vir volgende jaar se CrossFit-kampioenskap, waar deelnemers se fiksheidvlakke tot die uiterste beproef word.
“Ek het nou reeds begin oefen en bou vir die kompetisie. Dit verg lang ure en harde werk, maar ek glo in ’n gesonde, fikse liggaam en selfdissipline,” sê hy.
Olivier het op Oudtshoorn grootgeword en toe sportwetenskap aan die Universiteit van Bloemfontein studeer.
Hy het ook begin studeer aan sy meestersgraad in sportwetenskap, maar sy werksure maak die studies taamlik moeilik.
Hy is nou ’n jaar lank met Tamryn getroud.
Olivier is mal oor rugby sedert sy skooldae en het op universiteit ook vir Kovsies uitgedraf. Dit is daar waar sewesrugby hom begin boei het. Hy het vir Kovies se Colts-span gespeel.
Hy het later vir die Sasol-rugbyklub uitgedraf en speel nou ook vir die Bethal-rugbyklub.
“Ek geniet egter die sewesrugby baie meer. Ek speel eintlik net vir die lekker,” vertel hy.
Olivier se doelwit vir die skool is om dit ’n voedingsbron vir die Cravenweek te maak deur die skoolspelers ten volle te ontwikkel.