Tuisblad / Nuus / Elani skilder, stal uit in Italië

Elani van der Merwe (44) van Trichardt is een van ses Mpumalanga-kunstenaars wie se werke volgende week op ’n internasionale kunsuitstalling in Italië vertoon word.

Dié ses lede van die Laeveldkunsvereniging is onlangs deur ’n paneel van drie beoordelaars, waaronder die burgemeester van Asissi, gekies om verlede maand vir twee weke lank in Asissi, Italië, te gaan skilder. Hulle moes daar die kunswerke lewer wat hulle in die Art Gallery Le Logge sou uitstal waar die Internasionale Uitstalling van Kontemporêre Kuns 2012 van 1 tot 9 Desember gehou word.

Die vroue wat saam met Van der Merwe gereis en geskilder het, is die skilder en kunskurator Ilona Petzer van Witrivier, Drini Jacobs van Ermelo en Kato Neveling, Sarie Eksteen en Tanah van Schalkwyk van Nelspruit.

Die uitstalling se skilderopdrag was beeldspraakskilderye van twee boeke uit ’n deelnemer se land. Van der Merwe het besluit op Long Walk to Freedom deur Nelson Mandela en Granate bloei in Jerusalem deur Marzanne Leroux-Van der Boon.

Soos die geval in baie van haar kunswerke het Van der Merwe ook in hierdie stukke ’n onderliggende geestelike boodskap weergegee. “Hoewel die werke kontemporêr is, hoop ek tog my dieper boodskap kom ook na vore,” sê Van der Merwe, ’n gebore Kapenaar.

Sy het al van kleintyd prentjies geteken. “My kunsonderwyser op hoërskool, mnr. Groenewald, het destyds daarop aangedring dat ek leer hoe om te teken sonder om op my papier te kyk.

“Dit was baie moeilik en frustrerend, maar ná baie gesukkel het die potlood in my regterhand ’n verlenging van my oë geword.”

Sy het later jare na Nelspruit verhuis waar sy onder meer ’n heeltydse eiendomsagent was. Sy het op haar dag ook bruidsbrosjures en advertensiemateriaal ontwerp en was nege jaar gelede lid van die eerste Innibos-feeskomitee. Sy het in Nelspruit by Petzer se kunsgroep aangesluit en by haar geleer om waterverf te bemeester.

“Dit was in hierdie tyd dat ’n profetiese woord oor my uitgespreek is en ek glo die Here het planne vir my en my kuns.”

Hoewel Van der Merwe graag profetiese werke skep, verf sy ook op aanvraag en sy is lief om portretstudies van mense te doen. Sy skryf enige sukses toe aan “God se onverdiende guns” en nie aan enige talent van haar kant nie.

Sy en haar man, Dries, en seun, MJ, woon nou meer as agt jaar in Trichardt. Sy skilder Maandae by die palette-groepie in Secunda om “alle blou Maandae meer kleurvol te maak”.

Die inspirasie vir haar geestelike kunswerke kom van God.

“Ek sien nog al die jare alles in prentjies.”

Van der Merwe maak ook portretrame omdat sy daarvan hou “om die volledige prentjie te sien”.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs