'n Skool vir gestremdes, asook ouetehuise is maar ’n paar van die instellings in Middelburg wat ’n finansiële krisis ervaar weens hoë munisipale rekeninge.
Volgens Sandra Bezuidenhout, eienaar van die Bethesda Huis van Hoop, ’n nie-winsgewende instansie wat gestremde kinders help, het die skool se maandelikse rekening altyd sowat R4 000 beloop. Slegs die elektrisiteitsverbruik beloop nou tussen R12 000 en R14 000.
“Twee van die onderwyseresse moes bedank omdat ek bloot nie hul salarisse kan betaal nie. Die stadsraad maak ons dood. As dit só aanhou, gaan ek die skool moet sluit en waar gaan hierdie kinders dan heen?” vra Bezuidenhout.
Bethesda Huis van Hoop huisves tans 20 welsynkinders wat permanent inwoon. Daar is ook 22 ander private leerlinge wat hier gehuisves word. Slegs ’n paar se ouers kan bekostig om die skoolgeld te betaal.
Bezuidenhout sê haar persoonlike munisipale rekening het ook drasties gestyg.
“Die rekening by my huis en ons loodgietersonderneming het ook verdubbel. In die verlede was dit gesamentlik sowat R8000. Nou beloop dit saam tot soveel as R20 000,” sê sy.
Die HTS Middelburg se munisipale rekening was in die verlede sowat R140 000 per maand. In die wintermaande was dit hoogstens R170 000.
Die rekening beloop nou gemiddeld sowat R350 000 per maand.
“Skole gaan gebuk onder hierdie nuwe tariewe wat onbekostigbaar duur is. Indien ’n skool 1000 vol-betalende kinders het, beteken dit dat dit elke leerling sowat R350 gaan kos net vir elektrisiteit. Dit kan nie so werk nie. En skole kan nie net skoolgeld verhoog nie, want die ouers gaan self reeds gebuk onder hierdie prysverhogings,” sê Dolf Jonker, die skoolhoof.
Die Bekommerde Verbruikersforum het onlangs ’n optog deur die strate gehou en ’n beswaarskrif by die stadsraad ingedien. Na afloop van die vergadering het die forum, die Kamer van Koophandel en bestuur van die stadsraad vergader om ’n strategie te bespreek.
Volgens Ben van der Merwe, verteenwoordiger van die forum, is daar egter geen besluit geneem om die tariewe aan te pas vir organisasies soos Bethesda en ouetehuise nie.
“’n Voorstel dat die huidige stelsel geskrap of op ys gesit word, het op dowe ore geval. Nie eens die feit dat ouetehuise en welsynsorganisasies geldelik swaarkry het enigsins simpatie ontlok om die tariewe te verander nie.”
Volgens Van der Merwe word ’n ouetehuis op die dorp nou genoop om reeds teen 16:00 aandete te bedien en die inwoners moet reeds om 18:00 gaan slaap sodat hulle nie die ligte hoef te gebruik nie.
“As dit só voortgaan dat ons geen samewerking van die munisipaliteit kry nie, gaan ons die kwessie op provinsiale vlak moet aanpak.
“As ons nie daar ingryping kan bewerkstellig nie, het ons dan die opsie om na die nasionale regering te gaan vir ingryping,” sê Van der Merwe.
Verskeie pogings deur Mpumalanga-Beeld verlede week om kommentaar te kry by Willie Fouché, die munisipale bestuurder, was tervergeefs. Die munisipaliteit het teen druktyd steeds kommentaar weerhou.