Die Slag van die Whisky-trein het verlede naweek ’n heerlike herlewing beleef toe tientalle Boere en Britte op Val (tussen Greylingstad en Secunda) bymekaar gekom het.
Rita Britz van Val is ’n vrou wat haar beywer vir toerisme in die Val-omgewing. Sy het besluit die storie van die Whisky-trein moet vir ewig vasgelê word.
Sy het ’n gedenksteen laat maak wat deur David Scholtz van die Military History Society of South Africa geskenk is. Daarop is ’n stoomlokomotief, soortgelyk aan ’n destydse lokomotief, gegraveer met ’n kort samevatting van hoe Boer en Brit die dag toe die trein opgeblaas is vir eers die wapentuig neergelê en saam feesgevier het met die drank wat op die trein was.
Scholtz het verlede naweek die verrigtinge by die treinbrug geopen en vertel baie treinspore en Britse goederetreine is in die oorlog deur die Boere opgeblaas om kosvoorrade en ander proviand van die treine af te vat.
In die Val-omgewing was die goederetrein weer onderweg met voorrade vir die Britte. Twee broers, Jack en Gert van den Heever, het dié dag die trein voorgelê en dit opgeblaas.
Groot was die verrassing toe hulle agterkom die trein is gelaai met lekkernye en drank.
Dié dag het die Boere en Britte saam op die wrak van die trein weggelê aan die heerlike verrassing.
Twee vroue wie se families deel was van die Anglo-Boere-oorlog het ook stories vertel wat daar gebeur het.
Idelette Beute het die Van den Heever-familie verteenwoordig en gesê Jack en Gert was twee van die vele kinders van ene Jan van den Heever.
Sy het ook genoem hoeveel Boeremeisies op die Britse soldate verlief geraak het. Van trou het daar niks gekom nie en die meisies moes met gebroke harte agterbly.
Helen Lawrence se familie het saam met Australiërs aan die Britse kant geveg.
Ná die oorlog is al die mans terug na Australië, maar die Lawrence-familie het teruggekeer en hulle hier gevestig op die plaas Lawreston, waar die treinbrug is en die gedenksteen die naweek onthul is.
Bome is die naweek ook hier ter nagedagtenis van die Boere- en Britse soldate geplant.
Almal het die Saterdag ná die boomplanting en gedenksteen-onthulling by die hotel op Val byeengekom vir ’n storiesirkel.
Daar het dr. Ann Samson van die Universiteit van Westminster in Brittanje en emiritusprof. Louis Changuion van die Universiteit van die Noorde baie interessante stories oor die Anglo-Boereoorlog vertel.
Daar was verskeie stalletjies en lewendige musiek en met genoeg eet- en drinkgoed het die gekuier aangehou tot Sondag.