Tuisblad / Nuus / Hoop is die boodskap

Hoop is één boodskap wat onlangs op 'n vroue-oggend op Evander bo die res uitgestaan het.

Die ATKV Kosmosrand se vrouetak het die oggend ’n teepartytjie by die Unicor-klub aangebied waar borskanker bespreek is.

Lindie Strydom, wat in die TV-reeks Egoli bekendheid verwerf het en nou by Solidariteit Helpende Hand betrokke is, het gesê hoop is ’n keuse en mense moenie toelaat dat hul drome gesteel word nie.

“Hoe gee ’n mens dan ’n arm kindjie hoop?” het sy gevra. Haar raad is om liefde aan die kind te wys deur diensbaar te wees.

“Só skep jy ’n atmosfeer waarin die saadjie van hoop geplant kan word.”

Strydom het gesê mense het verleer om die drome wat God hulle gegee het vlerke te gee.

Getuienis van twee kankeroorlewendes, Martie Zerwick en Debbie Geel, het die gehoor aan die hart gegryp.

Zerwick het agt jaar gelede borskanker gehad.

“Daai dag wat jy hoor jy het kanker is die dag wat jy werklik besef hoe afhanklik jy van die Here is.

“Dit is ’n geweldige skok om uit te vind jy het kanker, maar jy hou jou pose sodat niemand moet weet hoe jy eintlik voel nie.

“Dit het my gehelp om oukei vir ander mense te wees.”

Haar raad aan kankerpasiënte is om in hul stryd weg te bly van negatiewe mense en eerder met positiewe mense tyd deur te bring.

“Kanker is nie altyd ’n doodsvonnis nie,” het Zerwick gesê.

Geel, wie se vriendin die vorige aand aan kanker dood is, het ’n soortgelyke storie vertel van waar sy toevallig ’n knoppie in haar bors gevoel het tot by die chemoterapie waarvoor sy allergies was.

Sy het ook gesê mense moet altyd aan hoop vasklou.

Die Kosmosrand-vroue het in Oktober R60 000 ingesamel deur pienk linte te verkoop.

Hierdie geld help hulle om hul uitreikwerk vir kankerpasiënte en hul gesinne voort te sit.

Die tak beplan om van die geld wat tydens die teepartytjie ingesamel is aan te wend vir die opknapping van ’n huis waarin drie weeskinders woon.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Saterdag 2013-05-18
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 24° icon
PTA 6° - 21° icon
JHB 4° - 20° icon
BLOEM 3° - 22° icon
DBN 14° - 23° icon
PE 8° - 20° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs