Hy kan eenvoudig nie glo dat iemand hom raak gery het nie.
“Ek is een van die veiligste mense op die pad en dan is daar tog mense wat dink Secunda se strate is Kyalami,” het Theuns Koekemoer (37), ’n verkeersbeampte van die Govan Mbeki-munisipaliteit, gesê oor die voorval op 24 September waarin hy deur ’n motoris raak gery is.
’n Man in ’n Corsa-bakkie het glo 94km/h in ’n 60km/h-sone gery en Koekemoer getref waar hy en drie kollegas ’n snelstrik in Helen Josephrylaan beman het.
Die motoris het versuim om stil te hou toe Koekemoer hom probeer voorkeer het.
Koekemoer het uit die pad gespring, maar die motoris het hom raak gery. Koekemoer is sowat 20m ver en bo-oor ’n sypaadjie geslinger.
Beeldhet berig hoe ’n polisielid van die naburige Trichardt-polisiewyk kort daarna op die toneel opgedaag en glo ’n bottel water aan die motoris gegee het. Hy het ook geweier om die man in hegtenis te neem toe omstanders hom daarop wys dat die man vermoedelik dronk is.
Die polisie in Secunda het bevestig dat geen bloedmonsters van die motoris geneem is nie. Beeld het intussen vasgestel die betrokke motoris is kort voor die voorval ook ’n spoedboete in Secunda opgelê.
Koekemoer is sowat twee weke gelede uit die Meulmed-hospitaal in Pretoria ontslaan. Sy linkerhand en -pols, asook sy regterbeen en -voet is gebreek. Dokters moes twee staalpenne in sy regterbeen inplant. Sy regteroor is ook byna afgeskeur.
Van sy ribbe is gekraak en sy hart en longe was gekneus.
Hy het verlede Vrydag aan Mpumalanga-Beeld vertel die gekraakte ribbes pla in hierdie stadium die meeste. Hy mag ook nog glad nie op sy been trap nie. “Maar ek raak elke dag sterker en ek glo ek gaan spoedig weer verkeersoortreders kan vasvat,” het hy gelag.
“Dit is ’n wonderwerk dat hy leef,” het sy vrou, Elize, gesê.
“Ek het groot geskrik toe ek hom die eerste keer ná die ongeluk gesien het. Sy kop was ontsaglik groot opgeswel.
“Ek kry nou aanmekaar nagmerries oor wat hy moes deurgemaak het toe daai kar hom getref het.”
Hoewel hy self niks van die voorval onthou nie, het verskeie mense glo gesien wat met Koekemoer gebeur het.
“Ek was verbaas toe ek in die hospitaal wakker word en hoor wat gebeur het.”
Die drie kollegas in sy span het so groot geskrik dat hulle ná die voorval traumaberading moes kry.
Koekemoer is dankbaar dat hy nog leef, maar hy wil geregtigheid hê.
“Soveel mense het laat weet hulle bid vir my. Ek bid ook dat geregtigheid sal geskied.
“Elkeen wat iemand se lewe in gevaar steldit geld ook op die padmoet daarvoor boet.
“Die motoris wat my raak gery het, het geweet hy oortree die wet deur so vinnig te ry. Ek voel hy moet ernstig vervolg word. Dit is vir my sleg om te dink ’n ander geregsdienaar het hierdie ou gehelp om nie vir dronkbestuur toegesluit te word nie.”
Hulle wag nog om te hoor op watter aanklagte die staatsaanklaer die motoris gaan vervolg.