Wat het mense in die tyd voor Google gedoen?! Ek kan my dit skaars voorstel dat daar ‘n tyd was dat ons daarsonder moes klaarkom. Ek meen, wat het ons oumas en ma’s (afhangend vanuit watter generasie jy kom) byvoorbeeld gedoen as hulle dringend iets huishoudeliks wou weet en daar was niemand naby om gou ‘n voorstel of antwoord te gee nie?
Onomwonde gestel, ek is ‘n besliste Google-fan! Nie die wêreld se grootste tegnologiese junkie nie, maar ek weet wanneer ‘n ding vir my werk en Google werk vir my.
Na amper twee maande in Tashkent is my waarnemings en gevolgtrekking dat dit ‘n ontwikkelende stad vol paradokse is. Aan die een kant kry mens goed soos 5D flieks! (hoewel ek nie ‘n benul het wat dit behels nie). En Ipads en ander hoogs moderne katoeters. Aan die ander kant weer lyk dit soms asof dit stilstaan in tyd – die manier hoe mense dikwels hul klere bymekaarsit en dra, die beskikbaarheid van produkte en hoe dit verpak word, die manier hoe sommige supermarkte funksioneer, hoe betalings geskied (ek het al vertel dat mens nie ver kom met bankkaarte nie), ens. Soos iemand gesê het, dikwels laat dit mens dink aan Suid-Afrika in die 70’s of 80’s.
Dit vereis dus dat mens bietjie meer vindingryk moet wees om op te maak vir goed wat jy mis of graag wil hê maar wat nie hier beskikbaar is nie. Daar is darem meestal baie goeie alternatiewe beskikbaar, maar as jy iets regtig mis, is dit waar Google amper onontbeerlik is.
Luister net bietjie hier na van my mees onlangse suksesse, almal te danke aan Google-soektogte.
Ek het nog nêrens blatjang gesien nie. Hier is wel konfyte en preserves te kry, maar nie blatjang nie. En dis nogal iets wat ek baie in kos gebruik. Dus, ek het geGoogle en op ‘n swetterjoel resepte afgekom. Voila! Ek het ‘n halwe fles perske-en-appelblatjang gekook wat die ding vir my doen. Moet dit seker nog ‘n paar keer probeer voordat dit aan VLU-standaarde sal voldoen, maar dit proe soos blatjang, ruik soos blatjang en geur my kos soos net blatjang kan.
Probleem nr 2 – badskuim. Hoe kan mens borrelbad sonder badskuim? Dis soos om kos te eet sonder sout. Ek verneem hier is wel badskuim te koop maar ek kon dit nog nie opspoor nie. Ek vergeet elke keer om die Russiese woord daarvoor (wat ek ook geGoogle het) neer te skryf wanneer ek gaan inkopies doen. So kom ek dus telkens te staan voor die rak waarop ‘n wye verskeidenheid badprodukte en ander goed uitgestal is. Maar alles lyk soos stortgel of sjampoe. Maarten het hoeka al vir hom “lyfroom” gekoop omdat dit so droog is hier en by die huis (met behulp van Google) moes hy uitvind dis al die tyd skeergel.
Maar wat nou gemaak met badskuim? My Google-soektog het een mean badskuimresep opgelewer. Ek het nog nooit só baie skuim wat só dik is in ‘n bad gehad nie!
My melktertresep vra na versiersuiker vir die kors. Ek het nou al ‘n paar keer melktert gebak (iets wat ek nog nooit vantevore eers by die huis gedoen het nie! Snaaks watse giere mens beetpak so in die vreemde). Die eerste keer het Maarten vir my die heel stukke kaneel wat ons op die mark gekoop het omdat ons nie gemaalde kaneel kon opspoor nie, met ‘n vyl afgeskilfer. Daarna het ek die rasper gebruik. En ek het gewone suiker vir die kors gebruik. Dit het wel relatief goed gewerk in terme van die smaak, maar die suikerkristalle was te groot en het die kors grof gemaak.
Tydens my laaste poging het ek besluit om te kyk wat mens as alternatief vir versiersuiker kan gebruik. En wat sê Google? Jy blitz bloot gewone suiker in jou voedselverwerker totdat dit poeier is en daar het jy versiersuiker!
Wat kan ek sê? Ek wil nooit weer sonder Google wees nie!