Tuisblad / Nuus / Max is al tuis ná ongeluk by pretstap

Max Klopper, die gr.8-leerling aan die Hoër Tegniese Skool (HTS) Middelburg wat onlangs tydens ’n skool-pretstap deur ’n  motor raak gery is, is uit die hospitaal ontslaan.

Hy sterk tuis aan nadat hy breinbeserings opgedoen het. Max is ses dae lank in die hoësorg-eenheid en vier dae in ’n algemene saal van die Life Health Midmed-hospitaal behandel.

Volgens sy ma, kapt. Hettie Klopper, het haar kind al wonderbaarlik herstel sedert die ongeluk sowat drie weke gelede.

“Max het spatsels bloeding regoor sy brein, asook ’n kol bloeding regs agter. Dit het sy motoriese funksies, praatvermoë en sintuie belemmer. Max kan darem nou al sinne vorm en praat. Dit gaan dus baie beter.

“Dokters het eers gedink een van sy werwels is gebreek, maar dit was toe darem nie die geval nie. My kind se herstel is ’n wonderwerk,” sê sy.

Klopper is aan die Delmas-polisie verbonde. Max is in die koshuis van die HTS in Middelburg.

Die ongeluk het gebeur toe Max saam met sowat 800 kinders en hul gesinne aan die skool se pretstap deelgeneem het. ’n Motorbestuurder het aangejaag gekom en ’n groep kinders getref.

Sanet Griesel, adjunkhoof van die skool, sê die groep was sowat twee blokke van die skool af toe die ongeluk gebeur.

“’n Verkeersbeampte wat aan diens was vir die pretstap het kort voor 19:00 die motoris gestop, maar hy het dié opdrag verontagsaam en in die kinders vasgery,” vertel sy.

Twee van die ander beseerdes, Ruben Kruger en JP Prinsloo, is ook in gr.8 aan die HTS Middelburg.

Ruben se regterbeen is bokant die enkel gebreek. JP het ’n besering onder sy linkerknie opgedoen. Theuns Luus, in gr.5 aan die Laerskool Dennesig, se linkerhak is gebreek.

Almal behalwe Max is kort ná die voorval uit die hospitaal ontslaan.

Die bestuurder van ’n Uno, Elias Nzimande (48) van Mhluzi, staan in die Middelburg-landdroshof tereg op aanklagte van dronkbestuur en roekelose of nalatige bestuur.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Saterdag 2013-05-25
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs