Tuisblad / Nuus / Stoeimat haar koninkryk

Leanco Stans (14) van Bethal is mooi genoeg om modelwerk te doen, maar sy is geen prikkelpoppie nie.

Hoewel sy van mooi klere hou, is haar stoeipak waarskynlik die uitrusting wat sy die meeste dra.

Op die stoeimat word haar lang hare in netjiese Franse vlegsels uit haar gesig gehou en is Leanco net op haar teenstander gefokus. Haar krag het al menige seun verbaas.

Dié gr. 9-leerling aan die Hoërskool Hoogenhout is een van die land se beste vrouestoeiers en sy het vanjaar die Afrika-kampioenskap in Madagaskar in haar gewigsafdeling gewen.

Leanco, of Lallie soos almal haar noem, het ook die afgelope naweek die titel as Suid-Afrikaanse kampioen ingepalm op die Suid-Afrikaanse jeug-vrystyl-kampioenskap.

Sy het hier met ouer meisies afgereken.

Leanco word eers in Desember 15, maar haar teenstanders is almal geoefende tieners van twee of drie jaar ouer as sy.

“Tans is daar nog net drie ouderdomsgroepe vir meisies om in te stoei: o.11, bo 11 en die junior afdeling wat vir meisies van 18 jaar en ouer is,” vertel sy.

“Ek is egter baie dankbaar vir die ondervinding om teen ouer meisies te stoei,” sê Leanco.

Sy was al voorheen verskeie kere ’n Suid-Afrikaanse kampioen, sy stoei vir die nasionale span en het sedert haar deelname elke jaar haar provinsiale kleure verwerf.

Sy is nie bang vir seerkry nie en gee nie maklik op wanneer sy stoei nie.

Dit is juis hierdie vasberadenheid wat gemaak het dat sy nie lankal opgehou het nie, vertel haar ma, Esmari.

Sy het sowat vyf jaar gelede saam met haar boetie stoeiklub toe gegaan.

Die afrigter, Hansie Kruger, het destyds geweier om haar af te rig, maar Leanco het nie opgegee nie.

“Sy was klokslag elke oefening saam met haar boetie op die stoeimat,” vertel Esmari.

Die afrigter se woorde destyds was: “As ’n meisiekind op my stoeimat stap, stap ek af!”

Leanco se deursettingsvermoë het egter Kruger se weerstand laat verbrokkel en hy is nou ná al die jare steeds by haar afrigting betrokke.

Toe Kruger verlede jaar by ’n klub in Brakpan begin afrig het, is Leanco agterna.

Sy het tot onlangs nog onder die vaandel van Oos-Gauteng gestoei.

Sy en haar broers het onlangs by die Sasol-stoeiklub in Mpumalanga aangesluit nadat Kruger na Nelspruit verhuis het.

Die Stans-huishouding draai ook meestal om stoei. Leanco en haar boeties, Luanco (13), Rico (7) en Wico (6) oefen drie keer per week by die Sasol-stoeiklub op Secunda en daarby oefen Leanco en Luanco ook deur die week saam met die nasionale span in Gauteng.

Saterdae word daar óf geoefen óf aan kompetisies deelgeneem.

Leanco kry slegs kans om teen ander meisies te oefen wanneer sy in Gauteng is, dus moet sy teen seuns oefen wanneer sy klub-oefeninge bywoon.

“Ek gee nie om nie. Dit maak my net sterker,” vertel sy.

Leanco wil eendag aan die Olimpiese Spele deelneem en sy wil ook ’n veearts word.

 

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Sondag 2013-05-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 10° - 25° icon
PTA 10° - 21° icon
JHB 8° - 19° icon
BLOEM 6° - 23° icon
DBN 13° - 23° icon
PE 10° - 26° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs