Simony Fraser se grootste droom is om eendag die see te kan hoor.
Dié 11-jarige meisie van Middelburg is bykans heeltemal doof gebore.
Sedert haar pa, Ivan, se dood in 2010 het haar gehoor weens die skok baie meer verswak en benodig sy nou ’n tweede kogleêre oor-inplanting.
“Simony is op sewe maande gebore omdat ek epileptiese aanvalle begin kry het. Op 2-jarige ouderdom het sy al haar eerste gehoorstuk gekry,” vertel Simony se ma, Tinkie Fraser.
Simony het sowat twee maande gelede haar eerste kogleêre inplanting in die Muelmed-hospitaal in Pretoria gekry.
’n Gehoorstuk is agter die oor onder die vel ingeplant. Dit word dan op die oor se bestaande senuwees ingestel en elke ses maande ingestel sodat gehoor kan verbeter.
“Dit was ’n baie emosionele ervaring vir ons gewees. Ek het vir vyf en ’n halwe uur buite die teater gesit en gewag dat my kind uitkom. Die professore wat die operasie uitgevoer het, het my uurliks op hoogte gehou,” sê Fraser.
Volgens Fraser moes die wond eers mooi herstel voordat die apparaat aangeskakel kon word.
“Dit was ook so ’n emosionele oomblik toe sy vir die eerste keer weer iets in die oor kon hoor. Haar gesiggie het boekdele gespreek. Namate tyd verloop sal die klanke beter gehoor kan word. Die eerste stem het vir haar soos ’n papegaai geklink,” vertel Fraser.
Simony moet egter ’n tweede inplanting kry om beter te kan hoor.
Volgens Fraser moet hulle nou sowat R350 000 insamel vir die tweede inplanting en hul mediese fonds het slegs ’n gedeelte van die eerste inplanting betaal.
Die toestel alleen kos R235 000. Die operasie beloop R43 104.
Die toestelle word elke drie jaar opgegradeer en sy
sal lewenslank die toestelle moet dra.
“Simony wil graag dit sommer pienk of pers hê. Dit is haar gunstelingkleure. Sy is glad nie skaam daaroor nie en sê sy is spesiaal. My kind het meer geloof as enige dominee. En sy is sterk, as sy besluit op iets dan doen sy dit.”
Simony was tot voor die operasie ’n leerling aan die Laerskool Middelburg. Haar punte het egter versleg omdat dit nie altyd moontlik is om die onderwysers se lippe te lees nie.
Sy is nou by die Invictus-privaatskool in hierdie dorp.
“Sodra haar gehoor verbeter het, gaan ek haar weer in ’n hoofstroom-skool sit,” sê Fraser.
Sy het in samewerking met ’n motorfiets-klub, Blaze of Glory, ’n pretstap gereël om geld in te samel vir die prostese sowel as die operasie.
Die wedloop begin Vrydagoggend om 8:00.
Deelnemers moet die oggend reeds om 06:00 by die Kees Taljaard-stadion wees om vir die pretstap in te skryf.
Die vier afstande waarin deelgeneem kan word, is 5km, 15km, 25km en 45km. Inskrywingsgeld is tussen R20 en R40, afhangend van watter afstand gestap word.
Die deelnemers stap tot by die Bospot-restaurant naby Loskopdam.