’n Eier ’n dag
2012-10-11 15:34
’n Eier ’n dag
Sarel Loots
Opgelaai deur:

As ’n eier my daaglikse dosis vitamiene verskaf, is ek in! Dit is boonop ’n vitamienpil in ’n 100% natuurlike verpakking. Lees hier ’n paar feite oor eiers en probeer gerus my resepte: Sjokolade-en-piesang Franse broodjies en pannekoek.


 

Ek wou nog altyd my eie hoenders gehad het, nie vir die hoenders nie, (vir afkop-hoenders wat rondhardloop sien ek nie meer kans nie) maar vir die eiers! 


Daar is iets spesiaal, amper romanties daaraan om jou eie ontbyt te verskaf. Dit laat my dink aan hoe ons oumas en oupas dit nie te lank gelede nie gedoen het.


En in ons huis is daar baie voordele – praktiese dinge – as dit kom by daardie klein ovaal hoendereier. Om een of ander rede is daar min geregte wat ons maak wat nie eiers bevat nie. Die kinders is ook nou al groot genoeg om self in te spring en ’n lekker middagete of ontbyt op te tower as ek en Lieze dalk vergeet het om die dag melk te koop. 


Ek het so bietjie gaan oplees oor eiers en afgekom op ’n paar interessante feite. Daar is ’n amptelike Wêreld-eierdag – die tweede Vrydag van Oktober! Vanjaar is dit op 12 Oktober herdenk.


Daar is ook ’n amptelike webblad – www.internationalegg.com – met hope feite en skakels na eier-resepte. Ek sal ’n paar van my gunstelinge later beskryf.


Hulle beskryf ’n eier as ’n lekker groot vitamienpil. Ek hou nogal van die idee dat daar ’n beter, lekkerder en natuurliker manier is om my daaglikse dosis vitamiene in te kry as om ’n klein rooi pilletjie te drink. As ’n eier dié taak kan verrig, is ek in! Dit is boonop ’n vitamienpil in ’n 100% natuurlike verpakking.


 Hier is ’n paar interessante feite oor eiers:


Eiers het die hoogste gehalte proteine wat jy kan koop. Dit is hoekom die manne wat oefen so baie van eiers hou.


As jy wil weet of ’n eier rou of gaar is, spin dit op ’n tafel. ’n Gekookte eier sal mooi in die rondte draai en ’n rou rou eier sal net rondval.


Die geel van ’n eier hang af van die dieet van die hen. Die kleur kan gemanupuleer word deur die hoender se dieet te verander. Ek onthou in Zanzibar was die eiergeel spierwit weens die soort mielies wat die hoenders daar eet.


Bêre maar jou eiers in die yskas – hulle hou so tot sewe keer langer.


Hier is een vir die vroue ... een eier bevat net 70 kalorieë en 5 g vet. Nie te sleg nie, né!


’n Gemiddelde hen lê omtrent 300 eiers per jaar.


Ouer hoenders lê groter eiers.


Vars eiers skil moeiliker. Jy kom dit vinnig agter as jy jou eie lêhoenders het. Dit is dan makliker om die eiers hard te kook, in die helfte uit te sny en die eier met ’n lepel uit te skep.


Vars eiers sink en ou eiers dryf. 


Ek glo natuurlik die beste en lekkerste manier om ’n eier te eet is vars gebak op ’n lekker geroosterde volgraanbroodjie. Maar daar is soveel verskillende manier om eiers te geniet. In ons huis is Franse braaibrood, omelette en gekookte eier met soldaatjies baie gewild. Maar die beste is eiervla en roomys. Njammies! 


Hier is ’n paar lekker resepte wat jy gerus kan probeer. Maar kom ons begin by die begin: hoe om ’n eier te kook. Dit is baie maklik. Kook soutwater in ’n pot, maak ’n groot eier net effens warm onder ’n louwarm kraan om te voorkom dat die eier bars. Plaas die eier met ’n lepel in die kookwater en kook vir drie minute. Haal dit uit en koel dit af in koue water sodat die kookproses stop. En daar het jy die perfekte saggekookte eier.


 Hier is ’n moderne weergawe van ’n ou gunsteling: Sjokolade-en-piesang Franse broodjies. Gebruik omtrent vyf eiers, 200 ml sjokolademelk en twee ryp, verpulpte piesangs. Meng alles en doop ’n sny witbrood in die mengsel. Braai in ’n warm pan met regte botter wat al so lekker sing. Ja, kos maak moet nie net reg lyk en proe nie, dit moet reg klink ook! Braai die broodjies bruin en eet met heuning en lekker vars vrugte. Dit is nou ’n ontbyt! 


En dan is daar natuurlik die ou gunsteling ... pannekoek. Ek dink nie ons besef hoeveel kerke is van fondament tot toring gebou uit naweek na naweek se pannekoekverkope nie. Ek maak al vir jare die resep en dit werk altyd. Neem twee eiers vir een koppie meel, ’n halwe teelepel sout en bakpoeier en een eetlepel suiker, ’n skeut olie en ’n knippie neutmuskaat. Hierby gebruik ek een koppie melk en gooi dan water by tot die deeg lekker dik maar loperig is. Om die regte tekstuur te kry, leer ’n mens net met tyd, maar as jy dit eers regkry, is daar niks wat verkeerd kan gaan nie. Die pannekoek proe op sy beste met net ’n effense strooisel kaneelsuiker. Kosterapie op sy beste! 


Ek dink ek moet gou eers ’n baksel aanmekaar gaan slaan.


Groete!


 

facebook
twitter
img
img
img
  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Saterdag 2013-05-25
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 11° - 19° icon
PTA 8° - 24° icon
JHB 9° - 23° icon
BLOEM 5° - 26° icon
DBN 16° - 25° icon
PE 10° - 23° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs