Tuisblad / Nuus / Grillerige vonds mensgebeentes

Mariaan Kroese van Greylingstad het een Sondagoggend, sowat ’n maand gelede, ’n grillerige “geskenk” van haar hond gekry.

Wollie die labrador het wat vermoedelik mensgebeentes is in die beboste gebied agter Kroese se huis uitgegrawe en dit op haar baas se voorstoep neergesit.

“Die stank was ondraaglik,” vertel Kroese. Dit wat Wollie aangedra het, lyk soos die oorskot van ’n mens se voorarm en hand.

Kroese se dogter en skoonseun, Charmaine en Wynand Botha, het die naweek by haar gekuier. “Charmaine werk in die mediese veld en sy het dit dadelik as ’n mens se arm geïdentifiseer,” vertel Kroese.

Hulle het die polisie ontbied.

Die polisie het in die bosse gekyk en toe die bene verwyder wat die hond huis toe gebring het.

Wollie het die volgende dag wéér vir Kroese ’n been aangedra; dié keer een wat soos ’n mens se nekwerwel lyk.

Die polisie het dié been ook verwyder, vertel sy.

Volgens Kroese was die stasiebevelvoerder die volgende aand op ’n wyksvergadering nie eens bewus van die bene wat gevind is nie.

Lede van die Standertonse honde-eenheid het die Vrydag saam met die stasiebevelvoerder by Kroese se huis opgedaag.

“Die vrou (die stasiebevelvoerder) het my baie onbeskof behandel. Sy het eers op ’n verduideliking aangedring oor waar die bene vandaan gekom het en toe het sy my sommer net so gesê om stil te bly. Sy het toe geloop. Ek het in my huis ingegaan en die honde-eenheid se mense het in die bos ingegaan.”

Kroese sê ’n honde-hanteerder het vir haar kom vertel dat die honde op een plek bly snuffel, maar niks kry nie. Hy sou later met opgrawingstoerusting terugkeer.

“Hy het nooit weer opgedaag nie. Die polisie het tot vandag toe nie eens my verklaring kom afneem nie, al woon die speurder wat dit moes doen, reg oorkant my in dieselfde straat,” vertel Kroese.

Intussen is Wollie vir eers op hok gesit.

“Ek is naar vir die hond, jong,” vertel Kroese. Sy wil weet hoekom die polisie niks verder aan die saak doen nie.

Volgens haar het ’n polisiebeampte wel aan haar bevestig dat die bene van menslike oorsprong is.

Sers. Gerald Sedibe van die polisie se provinsiale kommunikasie-afdeling het by die polisie in Greylingstad navraag oor die voorval gedoen.

“Die bene is vir forensiese ontleding gestuur om seker te maak of dit wel menslik is. Indien wel, sal die polisie dan eers ’n ondersoek begin,” sê Sedibe.

Hy doen ’n beroep op die gemeenskap om kalm te bly.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-05-22
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 13° - 26° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 22° icon
BLOEM 4° - 23° icon
DBN 13° - 25° icon
PE 11° - 30° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs