My dogtertjie vra eergister: “Mamma, kan ek asseblief gou kafee toe stap om ’n boek vir skool te koop?”
Ek is toe onder die werk en wil dadelik instem, want die oefening sal haar goed doen. Dit is nie gesond vir ’n 12-jarige om net so by die huis agter geslote deure te sit nie. Maar iets laat my aarsel – is dit veilig?
Moet ek instem dat sy die twee blokke straatlangs tot by die kafee stap; en watter roete moet ek haar toelaat om te stap: langs die besige hoofpad af of die stil pad tussen die huise deur? Om by die besige hoofpad uit te kom, moet sy ’n paar meter deur ’n grasveldjie stap, en almal in Secunda weet dat gevaar tussen hierdie grassies skuil.
Dalk moet sy die klein hondjie saamneem, maar sal dit enigsins ’n verskil maak as iemand haar met ’n mes in sy motor dwing? Is ek paranoïes, of is ek net ’n ma wat haar blou oog-meisiekind wil beskerm? Voel ander ma’s net soos ek?
Die Sondagverkragter, Jaco Steyn, het sy slagoffers in die dag in woonbuurte, langs hoofpaaie, ontvoer – meisies my dogter se ouderdom. Steyn is wel in aanhouding, maar hoeveel ander mans net soos hy dwaal in ons plattelandse dorpe rond?
Ek wil ook hê Sussie moet vry kan voel in ’n “vry” Suid-Afrika, maar wat is die prys wat sy vir hierdie vryheid gaan moet opdok?
Haar gesiggie val toe ek nee sê.