Tuisblad / Nuus / Terugslag vir luiperdprojek

Die eerste luiperd wat as deel van die Luiperd-projek in Mpumalanga vrygelaat is se karkas is in ’n strik naby Barberton aangetref.

Volgens Deon Cornelius, eienaar van die Ubhetyan-o-Africa- wildplaas buite Middelburg, is die dier se karkas sowat twee weke gelede gevind. Die plaas dien as die basiskamp vir dié projek.

Die dier is einde verlede jaar in die natuur vrygelaat nadat hy gerehabiliteer is. Die luiperd het ná sy vrylating in die omgewing van Dullstroom, Lydenburg, Badplaas en Barberton beweeg.

“Die luiperd het ’n halsband aangehad wat sy bewegings vasgelê het. Ek het gesien die luiperd was sowat twee weke op een plek. Ek het onraad vermoed en saam met Gerrie Camasho, roofdier-wetenskaplike van die Mpumalanga-Parke-en toerisme-agentskap, na die dier gaan soek,” sê Cornelius.

Die dier se karkas waarvan die vel en pote afgesny was, is toe in ’n bosbouplantasie in die Barberton-omgewing gevind.

“Dit is baie hartseer vir ons. Die projek het ’n knou gekry, want dit het sowat R100 000 gekos om die dier, wat ons gekry het nadat hy in ’n strik beland het, weer op die been te kry. Ons vermoed die pote is dalk vir tradisionele medisyne afgesny,” sê Cornelius.

Volgens hom het hulle Dinsdag nog ’n luiperd gevang wat ook beseer is.

“Dié luiperd is in ’n hok op Dries Heyns se plaas op die Slaghoekpad gevang.

“Van haar tande is uitgebreek en haar bek is erg beseer soos sy haarself uit die hok probeer bevry het.

“Ons meen die wyfie is sowat vier jaar oud en dragtig. Sy gaan nou eers by Ubhetyan herstel voordat sy na Maholoholo by Hoedspruit geneem word,” sê Cornelius.

Hy en sy span versorg steeds die luiperd wat verlede jaar in hul sorg beland het nadat dit ook in ’n strik beland het.

Dié dier is so erg in die voorval beseer dat hy nooit weer in die natuur vrygelaat sal kan word nie. Hy is destyds uit ’n strik gered, maar van sy tande moes verwyder word, so hard het hy baklei het om uit die strik te ontsnap.

Die strik het ook die agterkant van sy lyf oopgekloof en sy pote is ernstig beseer.

Dié luiperd is nou ses jaar oud.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Donderdag 2013-05-23
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 19° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 7° - 23° icon
BLOEM 3° - 24° icon
DBN 14° - 27° icon
PE 12° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs