Swartbek is haar eienaar se witbroodjie.
Hierdie 3,3 m lange swartmamba is met die hand grootgemaak en so mak soos, wel, ’n lammetjie.
Al het sy haar eienaar, Neels Bothma van Mashishing (Lydenburg), een keer gebyt, mag sy nog vrylik in die huis rondseil.
“Sy is seker die kalmste slang wat jy in jou lewe sal teëkom,” vertel Bothma. “Sy eet so een keer per maand muise of rotte. Die res van die tyd sal sy doodgerus in die huis rondlê.
“Dit is eers wanneer dit naby voedingstyd is wanneer sy begin rondbeweeg.”
Bothma is ’n paramedikus by die Everest-platinummyn. Hy is ook ’n gekwalifiseerde ketelmaker, ’n herpetoloog (kenner van reptiele) en voorsitter van die herpetologiese vereniging.
Hy was uit die staanspoor erg oor Swartbek, selfs toe sy nog in ’n eier was, vertel Bothma.
Hy het tien jaar gelede op Swartbek se ma afgekom nadat dié deur ’n motor raak gery is.
“Sy was dragtig. Ek het die slang oopgesny en haar eiers uitgehaal. Ek het toe vir Swartbek in ’n broeikas uitgebroei.
“Dit is omdat sy gewoond is aan mense dat sy so rustig is.”
Swartbek het Bothma op ’n keer gepik toe hy besig was met ’n opleidingsessie. “Ek wou haar in die kas terugdruk toe sy my ’n waarskuwingsbyt met een tand gegee het.
“Ek is behandel met ’n antihistamien en was vir 24 uur vir waarneming in die hospitaal,” vertel hy.
Volgens Bothma melk hy nie haar tande nie. “Ek let nou net beter op na hoe sy optree en as sy my waarsku. Ek behandel haar met liefde en respek.”
Dit was ook nie Bothma se enigste slangbyt nie. Toe hy die eerste keer gepik is, was hy lid van ’n span wat in die Hoedspruit-en-Nelspruit-omgewing navorsing gedoen het oor swartmambas.
Hy het ’n swartmamba gevang en die slang het hom deur die vangsak gebyt. “Binne ’n uur en ’n half het ek gesukkel met my asemhaling. Danksy agt ampules anti-serum was ek net vir ’n halwe dag in die hospitaal.
“Ek het sommer myself toe ontslaan omdat daar te veel werk was wat gedoen moes word,” vertel hy.
’n Groenmamba het hom ook al gepik toe hy dié met die hand gevoer het.
“My bloeddruk het gesak, maar dit was nie lank daarna nie toe is ek weer beter. Dit help om kennis te hê oor slange en te weet watter simptome ek gaan toon,” sê hy.
Bothma is nie getroud nie. Hy woon saam met sy broer, Fanie.
Volgens Bothma leef Fanie in vrede saam met Swartbek. “Dit is egter maar ’n sensitiewe onderwerp,” voeg hy by.
Behalwe vir Swartbek het hy nóg 14 slange. Hy bied tuis opleidingsessies oor slange aan.
Sy pa, ook Fanie, het hom van jongs af geleer om die natuur op te pas. “Jy maak nie diere dood nie; selfs nie slange nie.”